Mont Ventoux

Mont Ventoux
Ligging Vaucluse (Provence, Frankryk)
Hoogte 1 912 meter bo seevlak
Reeks Massif des Baronnies (Vooralpe)
Koördinate 44°10′28″N 5°16′44″O / 44.17444°N 5.27889°O / 44.17444; 5.27889
Eerste bestyging 26 April 1336
Eerste bestyger(s) Francesco Petrarca
Maklikste roete Fietstoer
Ligging van Mont Ventoux op 'n kaart (Frankryk)
Mont Ventoux
Mont Ventoux

Mont Ventoux (in Oksitaanse Provensaals: Mont Ventor, afgelei van die oorspronklike Latynse Venturi) is 'n bergpiek in die département Vaucluse (Provence, Suid-Frankryk), sowat 20 kilometer noordoos van Carpentras. Die berg se noordelike kant grens aan die département Drôme.

Mont Ventoux maak deel uit van die Massif des Baronnies in die Provensaalse Vooralpe-gebied, maar verrys nogtans as 'n eensame bergpiek op 'n hoogte van 1 912 meter. Dit is die hoogste bergpiek in die gebied wat byname soos "Reus van Provence" of "Die Kaal Berg" dra. Unesco het Mont Ventoux en sy omgewing in 1990 tot biosfeerreservaat verklaar om die oorlewing van sy ryk verskeidenheid flora te verseker.

Soos die Franse naam al aandui (venteux beteken "winderig"), word die bergpiek deur die groot windsnelhede gekenmerk wat hier optree, veral sodra die Mistral met gewoonlik meer as 100 kilometer per uur waai, en op 19 November 1967 is daar selfs windsnelhede van 320 km/h aangeteken. Die pad oor die berg word dikwels vanweë die sterk plaaslike winde gesluit. Die ware oorspronge van die naam kan teruggevoer word na die 1ste of 2de eeu n.C. toe dit as Vintur (afgelei van 'n Galliese god van bergspitse) of Ven-Top (Gallies "sneeubedekte piek") bekend gestaan het. Sommige navorsers neem egter ook aan dat die berg se naam van die Oud-Keltiese went afgelei is wat "berg" beteken. In die 10de eeu was Latynse name soos Mons Ventosus en Mons Ventorius gebruiklik.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search